Saturday, 13 October 2012

2010/08/04


Kuier by Java

2010/08/04

 

Danksy ʼn uitnodiging van Johan en Ensa, kon ons die Timbavati besoek, deur te gaan kuier by Java. Dit was ʼn vroeë oggend uit Vanderbijlpark en Henk en ek het sekerlik gelyk soos twee kindertjies met groot gerekte ogies.

By Motswari het ons twee amper sonder om te wag vir ʼn uitnodiging op die wildsvoertuig geklim vir ons laaste skof na Java. Alhoewel daar nie werklik tyd was vir foto’s neem nie, was dit opwindend. Dit moes vir my die teken gewees het dat Java vir altyd ʼn plekkie in ons harte gaan oopskop.

 

By Java was die opwinding nog groter om te besef dat Johan nie net ʼn grappie gemaak het nie, by ons ‘huisie’ is werklik geen elektrisiteit nie. Die vrag na die huisie was maar min, maar die fotografietoerusting het gelyk soos ʼn berg. Saam met die rekenaar toerusting en verwyssingsboeke het ons baie duidelik ‘gearriveer’ in Java. Maar niks kon naastenby kom by die eet en drinkgoed nie. Ja-nee, ons was in vir ʼn KUIER.

 

Daar is egter nie vreeslik tyd gemors met die aflaai nie. Ons almal se missie – ʼn wildsrit. Dit was asof die wydheid van die natuur, sommer so skielik in jou kom nesskop en jy kan nie anders as om heeltemal te ontspan nie.

 

By ʼn trop buffels het ons ʼn wyle vertoef, terwyl hulle rustig nader gewy het in die namiddagson. Dit is nie vreemd dat die kameras op daardie stadium soos ʼn klomp gewere in spervuur geklink het nie. Dit is asof jy nie weet wat om eerste af te neem nie. Heel gepas het ʼn klompie ou bulle die agterhoede gedek, terwyl hulle al herkouende aangestap gekom het. Jy besef dat jy na een van die groot vyf kyk, wat nie sommer net vir die grap so geklassifiseer is nie. Dit is een van die wilde diere wat op land bly wat al vir die meeste sterftes in mense verantwoordelik was. En hier kom hulle aangestap en jy kan nie verstaan dat hulle as aggressief bestempel kan word nie. Hulle lyk dan so kalm en bedaard ... min gepla met die oorloggie wat op die voertuig aan die gang is ... hulle is in Afrika, dit is hulle plek, hulle is heel tevrede daarmee en jy kan ook maar daar wees, dit kan hulle min skeel.




 
Skielik het dit gelyk asof Gijani alle verveeldheid afgeskud het en is ons met ʼn spoed daar weg en iewers in die geskarrel kon ek hoor dat iemand ʼn luiperd opgespoor het. En dit is toe dat ek besef het ons is in ʼn privaatwildtuin. Eerstens is daar nie ʼn teken van die gewone verkeersopeenhoping wat gereeld in die Kruger Wildtuin gesien sal kan word by ʼn soortgelyke ‘sighting’ nie. Dinge word hier anders gedoen. Eers moet jy heel ordentlik op ʼn afstand bly, totdat jy nader geroep word. En dan, o so ordelik, in die volgorde wat die voertuie by die plek aangekom het, mag jy nader beweeg. Dan begin jy ʼn dans met die bosse uitvoer. Dit is om-en-om en agtertoe en vorentoe, totdat jy wonder of daar regtig ʼn luiperd is en jy nie maar net vir die vermaak van die gids moet koes vir takke en hik deur knikke nie.

Dan sien jy hom - die grasieuse kat van die bos – heel ongrasieus vasgekeer agter ʼn paar graspolle. En al is jy ook hoe braaf, wonder jy of daardie paar slagtande weet en VERSTAAN dat hulle nie op die voertuig mag spring nie. Skielik onthou jy van die fortuintjie wat jy aan fotografie toerusting gespandeer het en met ʼn brawe poging oortuig jy jou saamgeklemde hande om die kamera tot voor jou gesig te lig.

Moet ook nie dink jy kan uitspan op die plek vir ʼn koppie tee nie. O nee, dit is kyk, ‘snap’ ʼn paar foto’tjies en daar gaan jy, want die son sak en die volgende voertuig se gaste lyk soos meerkatte – lang gerekte nekke en al – en weereens kan jy sien hulle is net soos jy, ook die leviete voorgelees. Want al rek hul nekke so lank dat dit lyk asof hulle staan, bly almal sittende. Net af en toe hoor jy ʼn gespanne giggeltjie, wanneer meneer luiperd ore agtertoe trek en baie duidelik sy ontevredenheid met die situasie te kenne gee.

Heelwat later nadat die gebabbel op die voertuig waarop jy is, stiller begin raak, bekyk jy jou ‘wenfoto’ op die kamera se skermpie en wonder of jy dubbel sien, want niks lyk werklik skerp nie. Inteendeel dit lyk asof iemand ʼn dik stuk plastiek voor jou lens gehou het, terwyl jy jou foto geneem het. Die frons op jou gesig wil nie wyk nie, terwyl jy die foto geleentheid oordink. Die lig was dalk nie wat jy wou gehad het nie; die voertuig was dalk nie heeltemal stil genoeg nie; die lensverstelling dalk nie heeltemal korrek nie. Dan wyk die frons en glimlag jy maar heel skaapagtig teenoor jouself, want ... Sjoe dit was naby en jy dink nie jou duur betaalde lens stabiliseerder kan sulke bewende hande pypkan nie. Ai ...

 

En net so haastig soos wat die dag begin het, word dit nag. Dit is asof tot jy selfs stadiger praat en dink. Jy kyk op in die Afrika naghemel en jy is dankbaar. Dankbaar om onder JAVA se sterrehemel te kan sit, dankbaar vir die geleentheid om daar te kan wees, dankbaar vir mense wat jou genooi het om hierdie stukke hemel op aarde te kan beleef. En jy sluit jou oë en dank God vir Sy wonderlike skepping, terwyl iewers in die verte ʼn jakkals tjank en ʼn skopsuiltjie roep.

No comments:

Post a Comment