Sunday, 14 October 2012

2010/08/06


Kuier by Java

2010/08/06

 

Nadat ons probeer het om die sonsopkoms af te neem – met verskillende grade van welslae (ek dink myne was -12%) het ons Koedoe in die veld gesien asook ʼn trop olifante wat water drink. Die interaksie tussen die verskillende lede van die trop is uiters interessant en die mammas bly heeltyd bewus van waar hulle kleintjies is.
 

 

 
Asof die een jong bul besef het dat ons iets anders as die weerkaatsing in die water wil fotografeer, het hy aan ons kant van die water kom suip. Dit was uiters aanskoulik en ek het elke oomblik daarvan geniet, maar of dit die wenfoto van die dag was ... ek glo nie. Ewe non galant het hy tussen ons en die watergat ‘ver pad’  om gestap om weer by die trop aan te sluit.

 
 
Ons het ons hand aan ʼn geelbek neushoringvoël, ʼn bruinkopvisvanger, ʼn gewone troupant en ʼn goudstert speg probeer, maar ook dit was nie heeltemal wat ek gesoek het nie. Intussen het die arme Johan probeer om ons van bome en grasse te leer en hier en daar het iets vasgehak, maar ek dink ek sal meer as net ʼn paar dae in die Timbavati moet wees om al daardie tongknopers te onthou. Ons het sowaar op nog olifante afgekom wat drink, voordat ons terug gekeer het kamp toe.

 Na nog ʼn ontbyt, wat my bekommerd by belt laat wyer maak het en ʼn rus wat darem net daardie ergste klimatisering die wyk laat neem het, het ons weer op ʼn wildsrit gegaan. Die keer was daar ʼn ander agenda as die vorige aand. Ons sou eers ʼn bietjie rondry en dan sou ons getrakteer word op ʼn bosbraai. Aangesien die Coetzeetjies al ʼn paar bloutjies met sulke braaiery gehad het, wou Johan weet of ons kerrie eet. Wel, danksy die vorige klomp maaltye se suksesse, sou ons enigiets saam met hulle aanpak en ek het nie eers geskrik vir kerrie nie. Met ‘fanatical attention to detail’ is die kerriegereg voorberei vir aandete. Niemand wou daardie pot kerrie uit die oog uit laat gaan nie en dus moes die kerrie ook die wildsrit meemaak.

Of dit nou die kerrie was of iets anders wat ʼn koedoe koei laat besluit het om lank genoeg stil te staan, sodat sy model kan speel, weet ek nie, maar wat dit ookal was, dit het gewerk. Met oopgesperde neusvleuels het sy ons bekyk. Maar jammer vir haar, sy sou niks van die kerrie kry nie.


 

Danksy Gijani en Master, wat vir ons die braai plek voorberei het, was daar maar min om te doen. Ek kon my net verlustig in die dik sand van die rivierbedding en kyk hoe die son agter die westerkim wegsak (en ʼn halwe oog op daardie kerriepot hou). Soos altyd was Johan en Ensa die perfekte gasheer en gasvrou en ons kon net hul kundigheid gadeslaan, terwyl ʼn pot rys op die oop vuur gekook is en daardie berugte pot kerrie opgewarm is.


Tot op daardie stadium het Gijani ons nog ewe goedig dopgehou, maar toe begin die altyd avontuurlistige Scheepers-bloed praat. Henk het so op en af in die rivierbedding gekyk en hardop gewonder hoekom ons dan nie kan probeer om ʼn ‘star trailtjie’ deur te werk nie. Terwyl die twee manne ewe vernaam suid aandui en ek na die anderkant wys, waar ek dink suid behoort te wees, het ek darem so floutjies gemompel dat dit dan seker noord is, is daar besluit op ʼn plan van aksie. Voordat die donker nog tussen ons kon nesskop, was die plan gereed.

Steeds het Gijani gedink dit is maar net brawe planne en later het Ensa al haar dae gehad om hom te oortuig om nie die drie van ons in die rivierbedding te verlig nie. Sy ongelukkigheid het net gehou totdat die eerste bord kerrie verorber is. Johan bied toe ewe gulhartig ʼn tweede porsie aan en Gijani val eerste in die ry. Kyk, ek is nou nie berug daarvoor dat ek groot gaan op kerrie nie, maar my voete het nie nodig gehad om in opdrag te reageer nie, dit het sommer so vanself ook nader aan daardie pot kerrie gestaan.

Die drie van ons het sommer heel braaf die donker ingestap om die kameras te gaan haal en Ensa moes weer mooi praat dat Gijani ons pogings nie heeltemal verwoes met die voertuig se ligte nie. Danksy die kerrie, was hy darem nie openlik kwaad nie. Dit is seker nie vreemd dat daar niks van daardie gereg terug gegaan het kamp toe nie. Ek het in my lewe nie gedink ek kan ʼn 'curry cook’ in die rivierbedding so baie geniet nie. O ja, ek het toe nie die wenfoto van die star trail afgeneem nie, vandaar die afwesigheid van 'n foto.

No comments:

Post a Comment