Kuier by
Java
2010/08/05
Dit is een van
die kere wat jy glad nie omgee om voor sonsopkoms op te staan nie, want jy kan
nie wag om te sien wat die pragtige wêreld rondom jou vir jou in stoor het nie.
Die vorige dag se suksesse veroorsaak ʼn opwinding in jou wat glad nie wil wyk
nie. Daar word nie tyd gemors met ontbyt nie, dit is pak en ...
Soos die vorige
dag word jy weer deel van die veld, wanneer die oggendkoelte aan jou gesig kom
vat, terwyl jy die sonsopkoms iewers in die veld voor jou gaan soek.
En asof die
natuur bang was dat jy dalk die sonsopkoms gemis het, gun dit vir jou die
geleentheid om ʼn skalkse steenbokkie in die vroeë strale teen ʼn miershoop te
kan sien. Die oggendson het voorwaar goud in die mond.
Ons word weereens
bederf met ʼn trop buffels en twee nuuskierige kameelperde en Henk en ek word
ingelyf met oggend-koffie in die veld – die Motswari manier ... naby die rivier
waar krokodille te sien was. Aan die sleepsel op die rots vermoed ek dat die
ander krokodil die veiligheid van die water opgesoek het, nadat hy ons hoor
aankom het. Die een het ook sy brawe poging, terwyl ons afgeklim het, laat vaar en ook in die water ingegaan.
Vreemd hoe die vreesaanjaende ook maar bang kan wees.
Net soos die
vorige aand is ons trakteer op die heerlikste lekkernye. Die keer het ons
gestaan op die spore van wilde diere wat kort tevore nog self hulle dors kom
les het. Vir my is die stilte wat heers oorweldigend. Dit is nie ʼn steriele
stilte nie, maar ʼn simfonie van klanke en geluide wat saamspan om ‘stilte’ te
laat heers. Die stadsgeluide, wat ʼn paar dae gelede nog oorheers het, is ʼn
leeftyd ver. Dit was net die kolganse wat met gereelde tussenposes die stilte
laat bars het, met ʼn paar kras roepe.
Nadat Henk en ek ons
‘verkenningstog’ agter ʼn boom gaan doen het, het Johan en Ensa ʼn wandeling
langs die rivier uitgevoer.
Na nog ʼn trop
olifante het ons besluit om terug te keer Java toe vir ontbyt. Die keer het ek
skaam gekry, want soos wat ek darem weggelê het aan die lekernye tydens ons
oggendkoffie, moes ek uit ordentlikheid eintlik aandete ook oorgeslaan het.
Maar Ensa het nie einde nie. Sonder om ʼn woord te sê het sy die ontbyt uitgepak
en weereens kon ek myself nie keer nie - ek het goed ingelê. O, die skande!
Henk het nog iets
van foto’s gepraat, maar met my magie trommeldik was dit amper vanselfsprekend
dat my ogies toegetrek het. Met die agtergrondmusiek van eekhorinkies wat oor
die dak dans, is ek salig weggevoer na droomland.
Darem het ek later
probeer om agterstand in te haal, deur saam met Henk by die ‘swembad’ te sit en
blouvinkies afneem, voordat ons op ons volgende wildsrit vertrek het.
Luilekker het ons
onder andere kameelperde dopgehou en heel gepas ons eie McDonald bokkies,
terwyl die son weer sy goue verfkwas uitgehaal het en die namiddag in goud gebaai
het.
Ek het dit geniet
om die rooibokkies af te neem, terwyl hulle oor die pad gespring het. Hierdie
was een van my beter pogings en dit het my weereens laat besef dat ek nog baie
oefening nodig het om die tipe fotografie te laat werk.
Terwyl ons om die
kampvuur sit, begin ons nagfotografie praat en gou pluk die mans hul kameras
nader en beplan ons ʼn ‘star trail’. Nodeloos om te sê, dat terwyl Johan en Ensa
ons weereens bederf het met allerhande lekkernye waarin jou tande sommer so vir
die lekker in wegsak, was die kameras opgestel vir ons eerste poging. Wat my en
Johan betref was dit net ‘pogings’ Henk het hier met die louere weggestap.





No comments:
Post a Comment