Sunday, 14 October 2012

2010/08/07


Kuier by Java

2010/08/07

 

Soos met alles kom daar ook ʼn einde aan so ʼn wonderlike tyd in die natuur en vir die eerste keer vandat ons in Java aangekom het, staan ek nie so flink uit die vere uit op nie. Ons het beplan om die oggend vroeg te gaan vir ʼn wildsrit en daarna te gaan pak en dan te vertrek. Asof die natuur ons lusteloosheid aanvoel probeer dit vergoed deur ʼn trop koedoe aan ons te toon. Volgens my was die kalf heeltemal te groot om steeds te soog en ek dink die ma het my mening gedeel, maar die kalf stem beslis nie saam nie. Hy het haar net aanhou stamp totdat sy sak en hy kan suip.

 
Daar is besluit om ʼn olifant karkas te besoek, want Henk het skielik onthou dat hy aasvoëls (of vlermuise – soos wat ek hom spot) baie graag afneem. Darem moet ek toegee dat hy al heelwat suksesse met aasvoël fotografie gehad het, veral indien in ag geneem word dat hulle oë baie diep in die oogkaste sit – om dit te beskerm terwyl hulle aas. Dit het nogal ʼn gestoei afgegee om hom van die karkas en die meegaande klankie te laat afskeid neem.

 

Maar hoe ons ook al die oggend probeer rek het, dit het tog verby gegaan en ons moes gaan pak. Toegegee, ons het nie al die lede van die groot vyf gesien nie, maar dit het nie eintlik vir my saak gemaak nie. Dit was by verre ʼn wonderlike ervaring.

Net omdat ons moes, is die voertuig gelaai en het ons halfhartig vir Gijani, Master en Lindiwe gegroet en met Johan se voertuig vertrek. En toe verander ons oggend. ʼn Verskriklik opgewonde Gijani jaag ons van agter af in en ons word op sy voertuig gelaai. Ek dink my hare het in al die windrigtings gestaan teen die tyd dat ons by sy fonds opgedaag het. En daar, heel verveeld met die lewe, lê die berugte wit leeuwelpies van die Timbavati. Die twee moeders het hulle nog minder aan ons gesteur as die drie welpies – twee wit en een bruin.

 
ʼn Vrou en opname span wat namens die National Geographic die wit welpies se lewe verfilm sit ook so ʼn entjie van hulle af. Van waar ek op die voertuig gesit het, kon ek nie eintlik van die wit welpies ʼn foto geneem het nie en op fluistertoon gesels ons toe maar oor die slapende diere. Steeds op fluistertoon, vertel ek aan die ander hoe ons met ʼn sekere geluid gewoonlik voëltjies wat in die gras weggesak het, uit hulle skuilplek roep. Ewe voortvarend besluit ek om saggies te demonstreer. Wie die grootste geskrik het vir die geluid wat oor my lippe gekom het, is steeds moeilik om te bepaal. Dit was verskriklik hard in die stilte wat geheers het. Tot die leeus het verskrik regop gesit. Maar nadat hulle my vererg beloer het, het hulle net weer neergeplof en verder geslaap.

Maar toe kry ek die skrobbering van my lewe by Gijani oor hoe hulle hul bes doen om die leeus aan voertuie gewoond te maak en hoe ek met my kortsigtigheid al hul pogings in die wiele ry en ... Teen daardie tyd het ek nie meer geweet waar om my kop in te steek nie – en dit alles ten aanskoue van die National Geographic span. Toe die voertuig so gedraai word, sodat ek ook die wit welpies kon afneem, het my fotografiese belangstelling lankal die wyk geneem en kon ek nie gou genoeg van my ‘Plek van verleentheid’ ontsnap nie.

Om alles te kroon het ons op ʼn slapende renoster ook afgekom op pad terug na Johan se voertuig. Dit is seker te wagte dat ek nie eintlik probeer het om die renoster te laat beweeg nie.

 
Maar nou ja, daar word nie verniet gesê dat selfs ʼn slegte dag in die natuur is beter as ʼn goeie dag by die werk nie.

No comments:

Post a Comment