Kuier by
Java
2010/08/07
Soos met alles
kom daar ook ʼn einde aan so ʼn wonderlike tyd in die natuur en vir die eerste
keer vandat ons in Java aangekom het, staan ek nie so flink uit die vere uit op
nie. Ons het beplan om die oggend vroeg te gaan vir ʼn wildsrit en daarna te
gaan pak en dan te vertrek. Asof die natuur ons lusteloosheid aanvoel probeer
dit vergoed deur ʼn trop koedoe aan ons te toon. Volgens my was die kalf
heeltemal te groot om steeds te soog en ek dink die ma het my mening gedeel,
maar die kalf stem beslis nie saam nie. Hy het haar net aanhou stamp totdat sy
sak en hy kan suip.
Maar hoe ons ook
al die oggend probeer rek het, dit het tog verby gegaan en ons moes gaan pak.
Toegegee, ons het nie al die lede van die groot vyf gesien nie, maar dit het
nie eintlik vir my saak gemaak nie. Dit was by verre ʼn wonderlike ervaring.
Net omdat ons
moes, is die voertuig gelaai en het ons halfhartig vir Gijani, Master en
Lindiwe gegroet en met Johan se voertuig vertrek. En toe verander ons oggend. ʼn
Verskriklik opgewonde Gijani jaag ons van agter af in en ons word op sy
voertuig gelaai. Ek dink my hare het in al die windrigtings gestaan teen die
tyd dat ons by sy fonds opgedaag het. En daar, heel verveeld met die lewe, lê
die berugte wit leeuwelpies van die Timbavati. Die twee moeders het hulle nog
minder aan ons gesteur as die drie welpies – twee wit en een bruin.
ʼn Vrou en opname span wat namens
die National Geographic die wit welpies se lewe verfilm sit ook so ʼn entjie van
hulle af. Van waar ek op die voertuig gesit het, kon ek nie eintlik van die wit
welpies ʼn foto geneem het nie en op fluistertoon gesels ons toe maar oor die slapende
diere. Steeds op fluistertoon, vertel ek aan die ander hoe ons met ʼn sekere
geluid gewoonlik voëltjies wat in die gras weggesak het, uit hulle skuilplek
roep. Ewe voortvarend besluit ek om saggies te demonstreer. Wie die grootste
geskrik het vir die geluid wat oor my lippe gekom het, is steeds moeilik om te
bepaal. Dit was verskriklik hard in die stilte wat geheers het. Tot die leeus
het verskrik regop gesit. Maar nadat hulle my vererg beloer het, het hulle net
weer neergeplof en verder geslaap.
Maar toe kry ek
die skrobbering van my lewe by Gijani oor hoe hulle hul bes doen om die leeus
aan voertuie gewoond te maak en hoe ek met my kortsigtigheid al hul pogings in
die wiele ry en ... Teen daardie tyd het ek nie meer geweet waar om my kop in
te steek nie – en dit alles ten aanskoue van die National Geographic span. Toe
die voertuig so gedraai word, sodat ek ook die wit welpies kon afneem, het my
fotografiese belangstelling lankal die wyk geneem en kon ek nie gou genoeg van
my ‘Plek van verleentheid’ ontsnap nie.
Om alles te kroon
het ons op ʼn slapende renoster ook afgekom op pad terug na Johan se voertuig. Dit
is seker te wagte dat ek nie eintlik probeer het om die renoster te laat beweeg
nie.
Maar nou ja, daar
word nie verniet gesê dat selfs ʼn slegte dag in die natuur is beter as ʼn goeie
dag by die werk nie.















