Sunday, 14 October 2012

2010/08/07


Kuier by Java

2010/08/07

 

Soos met alles kom daar ook ʼn einde aan so ʼn wonderlike tyd in die natuur en vir die eerste keer vandat ons in Java aangekom het, staan ek nie so flink uit die vere uit op nie. Ons het beplan om die oggend vroeg te gaan vir ʼn wildsrit en daarna te gaan pak en dan te vertrek. Asof die natuur ons lusteloosheid aanvoel probeer dit vergoed deur ʼn trop koedoe aan ons te toon. Volgens my was die kalf heeltemal te groot om steeds te soog en ek dink die ma het my mening gedeel, maar die kalf stem beslis nie saam nie. Hy het haar net aanhou stamp totdat sy sak en hy kan suip.

 
Daar is besluit om ʼn olifant karkas te besoek, want Henk het skielik onthou dat hy aasvoëls (of vlermuise – soos wat ek hom spot) baie graag afneem. Darem moet ek toegee dat hy al heelwat suksesse met aasvoël fotografie gehad het, veral indien in ag geneem word dat hulle oë baie diep in die oogkaste sit – om dit te beskerm terwyl hulle aas. Dit het nogal ʼn gestoei afgegee om hom van die karkas en die meegaande klankie te laat afskeid neem.

 

Maar hoe ons ook al die oggend probeer rek het, dit het tog verby gegaan en ons moes gaan pak. Toegegee, ons het nie al die lede van die groot vyf gesien nie, maar dit het nie eintlik vir my saak gemaak nie. Dit was by verre ʼn wonderlike ervaring.

Net omdat ons moes, is die voertuig gelaai en het ons halfhartig vir Gijani, Master en Lindiwe gegroet en met Johan se voertuig vertrek. En toe verander ons oggend. ʼn Verskriklik opgewonde Gijani jaag ons van agter af in en ons word op sy voertuig gelaai. Ek dink my hare het in al die windrigtings gestaan teen die tyd dat ons by sy fonds opgedaag het. En daar, heel verveeld met die lewe, lê die berugte wit leeuwelpies van die Timbavati. Die twee moeders het hulle nog minder aan ons gesteur as die drie welpies – twee wit en een bruin.

 
ʼn Vrou en opname span wat namens die National Geographic die wit welpies se lewe verfilm sit ook so ʼn entjie van hulle af. Van waar ek op die voertuig gesit het, kon ek nie eintlik van die wit welpies ʼn foto geneem het nie en op fluistertoon gesels ons toe maar oor die slapende diere. Steeds op fluistertoon, vertel ek aan die ander hoe ons met ʼn sekere geluid gewoonlik voëltjies wat in die gras weggesak het, uit hulle skuilplek roep. Ewe voortvarend besluit ek om saggies te demonstreer. Wie die grootste geskrik het vir die geluid wat oor my lippe gekom het, is steeds moeilik om te bepaal. Dit was verskriklik hard in die stilte wat geheers het. Tot die leeus het verskrik regop gesit. Maar nadat hulle my vererg beloer het, het hulle net weer neergeplof en verder geslaap.

Maar toe kry ek die skrobbering van my lewe by Gijani oor hoe hulle hul bes doen om die leeus aan voertuie gewoond te maak en hoe ek met my kortsigtigheid al hul pogings in die wiele ry en ... Teen daardie tyd het ek nie meer geweet waar om my kop in te steek nie – en dit alles ten aanskoue van die National Geographic span. Toe die voertuig so gedraai word, sodat ek ook die wit welpies kon afneem, het my fotografiese belangstelling lankal die wyk geneem en kon ek nie gou genoeg van my ‘Plek van verleentheid’ ontsnap nie.

Om alles te kroon het ons op ʼn slapende renoster ook afgekom op pad terug na Johan se voertuig. Dit is seker te wagte dat ek nie eintlik probeer het om die renoster te laat beweeg nie.

 
Maar nou ja, daar word nie verniet gesê dat selfs ʼn slegte dag in die natuur is beter as ʼn goeie dag by die werk nie.

2010/08/06


Kuier by Java

2010/08/06

 

Nadat ons probeer het om die sonsopkoms af te neem – met verskillende grade van welslae (ek dink myne was -12%) het ons Koedoe in die veld gesien asook ʼn trop olifante wat water drink. Die interaksie tussen die verskillende lede van die trop is uiters interessant en die mammas bly heeltyd bewus van waar hulle kleintjies is.
 

 

 
Asof die een jong bul besef het dat ons iets anders as die weerkaatsing in die water wil fotografeer, het hy aan ons kant van die water kom suip. Dit was uiters aanskoulik en ek het elke oomblik daarvan geniet, maar of dit die wenfoto van die dag was ... ek glo nie. Ewe non galant het hy tussen ons en die watergat ‘ver pad’  om gestap om weer by die trop aan te sluit.

 
 
Ons het ons hand aan ʼn geelbek neushoringvoël, ʼn bruinkopvisvanger, ʼn gewone troupant en ʼn goudstert speg probeer, maar ook dit was nie heeltemal wat ek gesoek het nie. Intussen het die arme Johan probeer om ons van bome en grasse te leer en hier en daar het iets vasgehak, maar ek dink ek sal meer as net ʼn paar dae in die Timbavati moet wees om al daardie tongknopers te onthou. Ons het sowaar op nog olifante afgekom wat drink, voordat ons terug gekeer het kamp toe.

 Na nog ʼn ontbyt, wat my bekommerd by belt laat wyer maak het en ʼn rus wat darem net daardie ergste klimatisering die wyk laat neem het, het ons weer op ʼn wildsrit gegaan. Die keer was daar ʼn ander agenda as die vorige aand. Ons sou eers ʼn bietjie rondry en dan sou ons getrakteer word op ʼn bosbraai. Aangesien die Coetzeetjies al ʼn paar bloutjies met sulke braaiery gehad het, wou Johan weet of ons kerrie eet. Wel, danksy die vorige klomp maaltye se suksesse, sou ons enigiets saam met hulle aanpak en ek het nie eers geskrik vir kerrie nie. Met ‘fanatical attention to detail’ is die kerriegereg voorberei vir aandete. Niemand wou daardie pot kerrie uit die oog uit laat gaan nie en dus moes die kerrie ook die wildsrit meemaak.

Of dit nou die kerrie was of iets anders wat ʼn koedoe koei laat besluit het om lank genoeg stil te staan, sodat sy model kan speel, weet ek nie, maar wat dit ookal was, dit het gewerk. Met oopgesperde neusvleuels het sy ons bekyk. Maar jammer vir haar, sy sou niks van die kerrie kry nie.


 

Danksy Gijani en Master, wat vir ons die braai plek voorberei het, was daar maar min om te doen. Ek kon my net verlustig in die dik sand van die rivierbedding en kyk hoe die son agter die westerkim wegsak (en ʼn halwe oog op daardie kerriepot hou). Soos altyd was Johan en Ensa die perfekte gasheer en gasvrou en ons kon net hul kundigheid gadeslaan, terwyl ʼn pot rys op die oop vuur gekook is en daardie berugte pot kerrie opgewarm is.


Tot op daardie stadium het Gijani ons nog ewe goedig dopgehou, maar toe begin die altyd avontuurlistige Scheepers-bloed praat. Henk het so op en af in die rivierbedding gekyk en hardop gewonder hoekom ons dan nie kan probeer om ʼn ‘star trailtjie’ deur te werk nie. Terwyl die twee manne ewe vernaam suid aandui en ek na die anderkant wys, waar ek dink suid behoort te wees, het ek darem so floutjies gemompel dat dit dan seker noord is, is daar besluit op ʼn plan van aksie. Voordat die donker nog tussen ons kon nesskop, was die plan gereed.

Steeds het Gijani gedink dit is maar net brawe planne en later het Ensa al haar dae gehad om hom te oortuig om nie die drie van ons in die rivierbedding te verlig nie. Sy ongelukkigheid het net gehou totdat die eerste bord kerrie verorber is. Johan bied toe ewe gulhartig ʼn tweede porsie aan en Gijani val eerste in die ry. Kyk, ek is nou nie berug daarvoor dat ek groot gaan op kerrie nie, maar my voete het nie nodig gehad om in opdrag te reageer nie, dit het sommer so vanself ook nader aan daardie pot kerrie gestaan.

Die drie van ons het sommer heel braaf die donker ingestap om die kameras te gaan haal en Ensa moes weer mooi praat dat Gijani ons pogings nie heeltemal verwoes met die voertuig se ligte nie. Danksy die kerrie, was hy darem nie openlik kwaad nie. Dit is seker nie vreemd dat daar niks van daardie gereg terug gegaan het kamp toe nie. Ek het in my lewe nie gedink ek kan ʼn 'curry cook’ in die rivierbedding so baie geniet nie. O ja, ek het toe nie die wenfoto van die star trail afgeneem nie, vandaar die afwesigheid van 'n foto.

Saturday, 13 October 2012

2010/08/05


Kuier by Java

2010/08/05

 

Dit is een van die kere wat jy glad nie omgee om voor sonsopkoms op te staan nie, want jy kan nie wag om te sien wat die pragtige wêreld rondom jou vir jou in stoor het nie. Die vorige dag se suksesse veroorsaak ʼn opwinding in jou wat glad nie wil wyk nie. Daar word nie tyd gemors met ontbyt nie, dit is pak en ...

Soos die vorige dag word jy weer deel van die veld, wanneer die oggendkoelte aan jou gesig kom vat, terwyl jy die sonsopkoms iewers in die veld voor jou gaan soek.

En asof die natuur bang was dat jy dalk die sonsopkoms gemis het, gun dit vir jou die geleentheid om ʼn skalkse steenbokkie in die vroeë strale teen ʼn miershoop te kan sien. Die oggendson het voorwaar goud in die mond.
 

Ons word weereens bederf met ʼn trop buffels en twee nuuskierige kameelperde en Henk en ek word ingelyf met oggend-koffie in die veld – die Motswari manier ... naby die rivier waar krokodille te sien was. Aan die sleepsel op die rots vermoed ek dat die ander krokodil die veiligheid van die water opgesoek het, nadat hy ons hoor aankom het. Die een het ook sy brawe poging, terwyl ons afgeklim het, laat vaar en ook in die water ingegaan. Vreemd hoe die vreesaanjaende ook maar bang kan wees.

Net soos die vorige aand is ons trakteer op die heerlikste lekkernye. Die keer het ons gestaan op die spore van wilde diere wat kort tevore nog self hulle dors kom les het. Vir my is die stilte wat heers oorweldigend. Dit is nie ʼn steriele stilte nie, maar ʼn simfonie van klanke en geluide wat saamspan om ‘stilte’ te laat heers. Die stadsgeluide, wat ʼn paar dae gelede nog oorheers het, is ʼn leeftyd ver. Dit was net die kolganse wat met gereelde tussenposes die stilte laat bars het, met ʼn paar kras roepe.

 

 
Nadat Henk en ek ons ‘verkenningstog’ agter ʼn boom gaan doen het, het Johan en Ensa ʼn wandeling langs die rivier uitgevoer.

 
Na nog ʼn trop olifante het ons besluit om terug te keer Java toe vir ontbyt. Die keer het ek skaam gekry, want soos wat ek darem weggelê het aan die lekernye tydens ons oggendkoffie, moes ek uit ordentlikheid eintlik aandete ook oorgeslaan het. Maar Ensa het nie einde nie. Sonder om ʼn woord te sê het sy die ontbyt uitgepak en weereens kon ek myself nie keer nie - ek het goed ingelê. O, die skande!

Henk het nog iets van foto’s gepraat, maar met my magie trommeldik was dit amper vanselfsprekend dat my ogies toegetrek het. Met die agtergrondmusiek van eekhorinkies wat oor die dak dans, is ek salig weggevoer na droomland.

Darem het ek later probeer om agterstand in te haal, deur saam met Henk by die ‘swembad’ te sit en blouvinkies afneem, voordat ons op ons volgende wildsrit vertrek het.

Luilekker het ons onder andere kameelperde dopgehou en heel gepas ons eie McDonald bokkies, terwyl die son weer sy goue verfkwas uitgehaal het en die namiddag in goud gebaai het.



Ek het dit geniet om die rooibokkies af te neem, terwyl hulle oor die pad gespring het. Hierdie was een van my beter pogings en dit het my weereens laat besef dat ek nog baie oefening nodig het om die tipe fotografie te laat werk.

 
Nadat ons ʼn ‘sundowner’ gehad het, het ons terug gekeer na die kamp en onder andere ʼn muskeljaatkat gesien asook die rare ‘side stripe jackal’.

Terwyl ons om die kampvuur sit, begin ons nagfotografie praat en gou pluk die mans hul kameras nader en beplan ons ʼn ‘star trail’. Nodeloos om te sê, dat terwyl Johan en Ensa ons weereens bederf het met allerhande lekkernye waarin jou tande sommer so vir die lekker in wegsak, was die kameras opgestel vir ons eerste poging. Wat my en Johan betref was dit net ‘pogings’ Henk het hier met die louere weggestap.
 

2010/08/04


Kuier by Java

2010/08/04

 

Danksy ʼn uitnodiging van Johan en Ensa, kon ons die Timbavati besoek, deur te gaan kuier by Java. Dit was ʼn vroeë oggend uit Vanderbijlpark en Henk en ek het sekerlik gelyk soos twee kindertjies met groot gerekte ogies.

By Motswari het ons twee amper sonder om te wag vir ʼn uitnodiging op die wildsvoertuig geklim vir ons laaste skof na Java. Alhoewel daar nie werklik tyd was vir foto’s neem nie, was dit opwindend. Dit moes vir my die teken gewees het dat Java vir altyd ʼn plekkie in ons harte gaan oopskop.

 

By Java was die opwinding nog groter om te besef dat Johan nie net ʼn grappie gemaak het nie, by ons ‘huisie’ is werklik geen elektrisiteit nie. Die vrag na die huisie was maar min, maar die fotografietoerusting het gelyk soos ʼn berg. Saam met die rekenaar toerusting en verwyssingsboeke het ons baie duidelik ‘gearriveer’ in Java. Maar niks kon naastenby kom by die eet en drinkgoed nie. Ja-nee, ons was in vir ʼn KUIER.

 

Daar is egter nie vreeslik tyd gemors met die aflaai nie. Ons almal se missie – ʼn wildsrit. Dit was asof die wydheid van die natuur, sommer so skielik in jou kom nesskop en jy kan nie anders as om heeltemal te ontspan nie.

 

By ʼn trop buffels het ons ʼn wyle vertoef, terwyl hulle rustig nader gewy het in die namiddagson. Dit is nie vreemd dat die kameras op daardie stadium soos ʼn klomp gewere in spervuur geklink het nie. Dit is asof jy nie weet wat om eerste af te neem nie. Heel gepas het ʼn klompie ou bulle die agterhoede gedek, terwyl hulle al herkouende aangestap gekom het. Jy besef dat jy na een van die groot vyf kyk, wat nie sommer net vir die grap so geklassifiseer is nie. Dit is een van die wilde diere wat op land bly wat al vir die meeste sterftes in mense verantwoordelik was. En hier kom hulle aangestap en jy kan nie verstaan dat hulle as aggressief bestempel kan word nie. Hulle lyk dan so kalm en bedaard ... min gepla met die oorloggie wat op die voertuig aan die gang is ... hulle is in Afrika, dit is hulle plek, hulle is heel tevrede daarmee en jy kan ook maar daar wees, dit kan hulle min skeel.




 
Skielik het dit gelyk asof Gijani alle verveeldheid afgeskud het en is ons met ʼn spoed daar weg en iewers in die geskarrel kon ek hoor dat iemand ʼn luiperd opgespoor het. En dit is toe dat ek besef het ons is in ʼn privaatwildtuin. Eerstens is daar nie ʼn teken van die gewone verkeersopeenhoping wat gereeld in die Kruger Wildtuin gesien sal kan word by ʼn soortgelyke ‘sighting’ nie. Dinge word hier anders gedoen. Eers moet jy heel ordentlik op ʼn afstand bly, totdat jy nader geroep word. En dan, o so ordelik, in die volgorde wat die voertuie by die plek aangekom het, mag jy nader beweeg. Dan begin jy ʼn dans met die bosse uitvoer. Dit is om-en-om en agtertoe en vorentoe, totdat jy wonder of daar regtig ʼn luiperd is en jy nie maar net vir die vermaak van die gids moet koes vir takke en hik deur knikke nie.

Dan sien jy hom - die grasieuse kat van die bos – heel ongrasieus vasgekeer agter ʼn paar graspolle. En al is jy ook hoe braaf, wonder jy of daardie paar slagtande weet en VERSTAAN dat hulle nie op die voertuig mag spring nie. Skielik onthou jy van die fortuintjie wat jy aan fotografie toerusting gespandeer het en met ʼn brawe poging oortuig jy jou saamgeklemde hande om die kamera tot voor jou gesig te lig.

Moet ook nie dink jy kan uitspan op die plek vir ʼn koppie tee nie. O nee, dit is kyk, ‘snap’ ʼn paar foto’tjies en daar gaan jy, want die son sak en die volgende voertuig se gaste lyk soos meerkatte – lang gerekte nekke en al – en weereens kan jy sien hulle is net soos jy, ook die leviete voorgelees. Want al rek hul nekke so lank dat dit lyk asof hulle staan, bly almal sittende. Net af en toe hoor jy ʼn gespanne giggeltjie, wanneer meneer luiperd ore agtertoe trek en baie duidelik sy ontevredenheid met die situasie te kenne gee.

Heelwat later nadat die gebabbel op die voertuig waarop jy is, stiller begin raak, bekyk jy jou ‘wenfoto’ op die kamera se skermpie en wonder of jy dubbel sien, want niks lyk werklik skerp nie. Inteendeel dit lyk asof iemand ʼn dik stuk plastiek voor jou lens gehou het, terwyl jy jou foto geneem het. Die frons op jou gesig wil nie wyk nie, terwyl jy die foto geleentheid oordink. Die lig was dalk nie wat jy wou gehad het nie; die voertuig was dalk nie heeltemal stil genoeg nie; die lensverstelling dalk nie heeltemal korrek nie. Dan wyk die frons en glimlag jy maar heel skaapagtig teenoor jouself, want ... Sjoe dit was naby en jy dink nie jou duur betaalde lens stabiliseerder kan sulke bewende hande pypkan nie. Ai ...

 

En net so haastig soos wat die dag begin het, word dit nag. Dit is asof tot jy selfs stadiger praat en dink. Jy kyk op in die Afrika naghemel en jy is dankbaar. Dankbaar om onder JAVA se sterrehemel te kan sit, dankbaar vir die geleentheid om daar te kan wees, dankbaar vir mense wat jou genooi het om hierdie stukke hemel op aarde te kan beleef. En jy sluit jou oë en dank God vir Sy wonderlike skepping, terwyl iewers in die verte ʼn jakkals tjank en ʼn skopsuiltjie roep.